Tuisblad

Kaspaas sêHallo maats!

My naam is Kaspaas en ek is ’n trotse Lynnie! Kom ek vertel julle bietjie meer van ons webblad.

 

Ons het hierdie jaar ’n splinternuwe webblad gekry. Op hierdie webblad kan almal meer inligting oor Laerskool Lynnwood en Lynnwood Pre-Primêr kry. Sekere inligting is net belangrik vir leerders, ouers en onderwysers en dus is dit belangrik dat Leerders en ouers moet registreer om  in te teken op die webblad. Sodra julle inteken sal julle toegang hê tot inligting soos toetsroosters en werksafbakenings, personeel inligting, kalenders, foto-albums en nog baie meer!

Boodskap van die Hoof

Mnr. S. Stolk

By Laerskool Lynnwood streef ons daarna om Christelike normes en waardes te handhaaf. Jesus is nie Laerskool Lynnwood se belangrikste eregas nie, want HY WOON HIER. Godsdienstige oortuigings is 'n belangrike bron van die identiteit, waardes en lewens- en wêreldbeskouing van ouers, onderwysers en leerders van ons skool.

 

Soos Laerskool Lynnwood se visie dit stel, is dit vir ons belangrik dat elke kind gelukkig moet wees. Ons glo dat gelukkige kinders hulle optimale potensiaal kan bereik en die strewe is om elke kind daartoe te begelei. Elke leerder word gesien as 'n Godgegewe gawe en verdien om met agting en respek behandel te word. By Laerskool Lynnwood word erkenning gegee aan elke kind se uniekheid en moontlikhede.

 

Wanneer leerders skool toe kom, word ouers en onderwysers vennote. Die skool en die ouerhuis moet mekaar aanvul in belang van ons kinders se opvoedende onderwys. 'n Omgee-atmosfeer word gehandhaaf.

 

Dit is ook vir ons belangrik om gebalanseerde kinders te ontwikkel. Ons is trots om te sê dat ons goed opgeleide personeel het wat dit vir ons moontlik maak om hoë standaarde te handhaaf. Ons is 'n skool waar sterker leerders gestimuleer word tot uitnemendheid, gemiddelde leerders word gestimuleer om hulle volle potensiaal te bereik en aan leerders met spesiale behoeftes word hulp op verskillende terreine verleen.

 

Vir my as hoof van Laerskool Lynnwood is kinders 'n passie en ek streef daarna om te alle tye toeganklik vir alle leerders van hierdie skool te wees. Enige leerder is enige tyd welkom om met my te kommunikeer en my kantoordeur staan altyd oop vir leerders, ouers en onderwysers. Kom gesels gerus met my oor enige aangeleentheid of stuur 'n e-pos aan: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.  

Boodskap van Mnr. Stolk

Ons Visie

Deur uitnemende begeleiding word gelukkige en gebalanseerde kinders ontwikkel om die uitdagings van 'n veranderende wêreld aan te gryp.

 

Laerskool Lynnwood fokus veral op:

  • Nastrewing van Christelike normes en waardes.
  • Gebalanseerde kindgerigte begeleiding.
  • Skep van 'n omgee-atmosfeer.
  • Persoonlike dienslewering.
  • Nastrewing van hoë standaarde - Akademie, Kultuur en Sport.
  • Opgeleide personeel wat 'n verskil maak.
  • Ondersteunende, deelnemende ouers.

 Gedragkode van Laerskool Lynnwood

Met registrasie en herregistrasie as leerder van Laerskool Lynnwood verbind elke leerder en ouer hom/haar tot die daarstelling van 'n gesonde geestesklimaat in die skool. Hierbinne kan sy/haar persoonlikheid optimaal ontgin word, en word geleentheid geskep om sy sy/haar universele potensiaal ten volle te ontwikkel.

 

Erekode vir leerders van Laerskool Lynnwood

Ek gee die ereplek aan God

en Sy Woord in my lewe.

Ek dien my ouers en my skool.

Ek streef daarna om hulpvaardig te wees

en my medemens te dien.

Ek gehoorsaam en respekteer my ouers

en onderwysers en

gedra my hoflik teenoor my medemens.

My woord is my eer.

Ek is gesteld daarop om myself

en my omgewing

netjies en rein te hou.

Ek streef daarna om eerlik, opreg,

getrou en vriendelik te wees.

Ek glo dat die vrees van die Here die 

beginsel van Sy Wysheid is.